
Die skatting vir 2020 se oes staan nou op 49 503 ton ongedopte neute met ’n 15% voginhoud. Verlede jaar het Suid-Afrikaanse produsente 59 050 ton makadamianeute geoes.
Samac sê verskeie faktore kan bydra tot die swakker oes. Hoewel die afgelope reënseisoen heel gemiddeld was, het watertafels nog nie voldoende herstel nie. Boonop is baie boorde al redelik oud en hulle moet vernuwe word.
Samac sê hoewel die insek Eriococcus ironsidei ’n groot impak op makadamia-oeste het, kom dit net in sekere boorde in Mpumalanga voor. Dit kan nie die landwye afname in opbrengste verduidelik nie. Dieselfde geld stinkgoggas en neutboorders. Hoewel hierdie plae ’n aansienlike impak op makadamiaproduksie het, is dit nie vanjaar erger as vorige jare nie.
Blaaspootjies, wat normaalweg met warm en droë toestande geassosieer word, het wel aansienlike skade aan die nuwe groei van bome aangerig en boonop lyk dit of die bevolkings in makadamiaboorde weerstand het teen van die produkte wat gebruik word om dié plaag te beheer.
Siektes soos Phytophthora, dopvrot en droëblomsiekte is ook aan die toeneem, sê Samac. Die heersende droë toestande het waarskynlik bygedra tot ’n skerp toename in die voorkoms van baskewers.
Samac glo egter dat 2021 ’n beter seisoen vir makadamias sal wees. Vroeë aanduidings is dat ’n La Niña-stelsel wes van Suid-Amerika ontwikkel, wat met bogemiddelde reënval vir Afrika geassosieer word. Vroeë blom in party produksiegebiede hou ook die belofte van beter produksie in.