
Met Kalifornië in ’n ernstige droogtegreep het wyndruifprodusente in die Napa-vallei vroeër vandeesweek gesê dat sommige wingerde vroeër ryp word en dat boere kleiner oeste beplan om water te bespaar.
Wingerdeienaars snoei vroeër as gewoonlik en volgens ’n korter skedule, het mnr. Domenick Bianco van Renteria Vineyard Management gesê.
Indien daar nie laatwinter- of vroeë lentereën in die Napa-vallei uitsak nie, sal 2014 ’n kleiner oes oplewer. “Die hoeveelheid water bepaal die opbrengs. As jy 80% minder water as verlede jaar tot jou beskikking het, sal jy net 80% van die oes kry,” sê Bianco.
Anders as in ander gebiede, meen sekere boere in die Napa-vallei egter dat toegang tot ondergrondse akwifere hulle sal help om gewasse te besproei, selfs al kry hulle vanjaar net ligte reënbuie. Hoewel dit nie vir die gebrek aan reënval vergoed nie, kan dit op kort termyn die risiko verklein om oeste weens die droogte te verloor, verduidelik mnr. Hal Huffsmith, direkteur van wingerdbewerking by Trinchero Family Estates.
Omdat die reën steeds kan val, is dit nog te vroeg om te voorspel of die droogte die kleinhandelspryse van wyn in die Napa-vallei sal beïnvloed, aldus me. Jennifer Putnam, uitvoerende direkteur van Napa Valley Grapeowners.
Intussen sal boere die hoeveelheid besproeiingswater wat hulle gebruik, beperk om water te bespaar. Hulle gaan ook nie grondbedekkers plant nie, of kleiner plante wat tussen wingerde teen erosie aangeplant word nie. Die talle malse wingerde wat ’n mens gewoonlik in die vallei sien, sal ook afgeskaal word. “Besproeiing kan meer oordeelkundig toegepas word,” herinner Putnam. Geen oordadige blaredakke meer wat amper hemel toe rank nie.”