
Ingevolge regulasies vervat in die Wet op Drankprodukte (Wet 60 van 1989) wat op 8 Julie in die Staatskoerant afgekondig is, mag ander vrugtebasisse, insluitend druiwesap, vir die vervaardiging van ’n sider gebruik word, mits minstens 75% van die vrugtebasis wat gebruik word, van appels kom. Tot dusver is slegs peersap as ’n aanvulling vir appelsap in die vervaardiging van siders toegelaat.
Mnr. Christo Conradie, Vinpro se bestuurder vir wynbesigheid, sê die besluit kom ná uitgebreide konsultasie met en versoeke wat Vinpro en die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging (Salba) oor die afgelope 12 maande namens die organisasies se lede tot die wyn-en-spiritusraad gerig het.
Volgens hom is hierdie wysiging in ooreenstemming met internasionale standaarde en waarborg dit die gehalte van Suid-Afrikaanse siderprodukte.
Hy sê die gebruik van druiwekonsentraat in sidervervaardiging bied ’n alternatief tot die aansienlike hoeveelheid appelsapkonsentraat wat hoofsaaklik ingevoer word. Nog ’n voordeel is dat sidervervaardigers nou plaaslike druiweprodusente kan help om die wynbedryf se hoë surplus weens beperkings op wynverkope sedert die begin van die covid-19-pandemie te verminder en sodoende die bedryf te stabiliseer.
“Met die kontrakteringsonderhandelinge vir druiwesapkonsentraat wat normaalweg voor die volgende oes gedurende September en Oktober begin, kom hierdie wysiging op die regte tyd. Ons moedig ons produsente en vervaardigers aan om betrokke te raak en die potensiële voordele van verkoopsooreenkomste te oorweeg.”