
Die aartappel-aanplantings wat tans ge-oes word is 7% meer as verlede jaar en die duurste nog, sê Aartappels SA.
Mnr. Ernst Yzel, die voorsitter van dié organisasie, sê die oes is só duur omdat meer aartappels aangeplant is en weens hoë insetkoste.
Yzel sê boere kry tans swak pryse vir hulle aartappels, aangesien ‘n bottelnek-situasie met die aanbod in die land ontstaan het. “Weens die baie reën wat geval het, is daar baie boere wat gewag het om hul aartappels uit te haal. Nou haal almal hulle oeste omtrent gelyk uit, wat ‘n groter aanbod en swak pryse aan boere veroorsaak. Die groter aanplantings speel natuurlik ook ‘n groot rol,” verduidelik Yzel.
Volgens Yzel kry boere tans sowat R20 minder vir ‘n sakkie aartappels as wat hulle laat verlede jaar verdien het. “Vir ‘n klas een medium sakkie kry ‘n boer nou sowat R25, terwyl hulle laat verlede jaar sowat R45 per sakkie gekry het”.
Boere trek noustrop
Baie boere trek derhalwe noustrop, en Yzel sê die meeste probeer in dié stadium net gelyk breek ten opsigte van hulle uitgawes. “Verlede jaar was vir ons ‘n goeie jaar, want toe is daar 10% minder as in 2008 aangeplant, maar nou is daar 7% meer”.
Yzel sê ASA verwag dat pryse aan boere vir ‘n tyd lank op die huidige vlakke sal bly, maar dat dit weer sal verbeter. “Ons kan nog nie voorspel wat met volgende jaar se oes gaan gebeur nie.”
Intussen sê Yzel sowat 10% van die oes in die Oos-Vrystaat is verloor weens vrotskade ná die baie reën wat verlede maand in dié streek geval het. “Sowat 10% is egter ekstra in dié distrik aangeplant, so die produsente breek gelyk met die oes van 2009”. Die Oos-Vrystaat is ‘n baie groot streek wat aartappelverbouing aanbetref en speel dus ‘n groot rol in die bedryf.
31 Maart 2010