Met ’n geboortedatum in die 1932-oesjaar is Chateau Libertas beslis een van die oupagrootjies van Suid-Afrikaanse rooi versnitte. Om dié mylpaal te vier, het Distell ’n spesiale gedenkbottel met die 2021-oesjaar bekend gestel wat in bottels van 1,5 liter en 750 ml beskikbaar is.
Dié Cabernet sauvignon-gebaseerde versnit vereer wyle Duimpie Bayly, wat lewenslank ’n bydrae tot die wynbedryf gelewer het, en ook ’n groot rol in Chateau Libertas se geskiedenis gespeel het. Hy het geglo Chateau Libertas is ’n goeie vriend wat jou nooit in die steek laat nie.
As student het hy gereeld dié vriend ontmoet, maar ná hy die wynbedryf betree het, was hy bykans 60 jaar lank – van vroeg in die 1960’s tot met sy dood in 2021 – by Chateau Libertas betrokke.