
Kort nadat hy sy 40ste verjaardag onlangs gevier het, het mnr. Andries Daniels nog ’n rede gehad om fees te vier toe hy dr. Daniels word en geskiedenis maak deur die eerste swart Suid-Afrikaanse man te word wat ’n doktorsgraad in wingerkunde behaal.
Daniels, wat oorspronklik van Kimberley kom en ’n oog vir ’n goeie rosyntjiedruif het, is sedert die verwerwing van sy eerste graad in 2005 aan die Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvooorbij op Stellenbosch verbonde. In 2006 het hy as ’n navorsingstegnikus daar by die destydse teel- en evaluasie-afdeling ingeval. Hy woon tans in die Strand en is ’n navorser op tafel-, droog- en wyndruiwe in die LNR se gewasontwikkelingsafdeling.
Tesame met sy pligte om nuwe tafeldruif- en droogdruifkultivars en seleksies te evalueer en tweede ekonomie-druiweboere van veral die Noord-Kaap met raad en daad by te staan, het hy deeltyds drie grade, onder meer PhD, aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Daniels ken van hard werk. Terwyl hy vir die graad BscAgric gestudeer het, het hy snags diens gedoen as nagwag by die Beeldende Kunstegebou op die US-kampus en as merker opgetree in die departement biochemie.
Nadat sy matriekuitslae in 1999 nie goed genoeg was om keuring vir medies te kry nie, het hy teruggekeer na Hoërskool Adamantia in Kimberley om sy punte te verbeter.
Hy het daarna voorlopig voorgraadse BSc-kursusse in menslike lewenswetenskappe aan die US gevolg om mediese keuring te probeer kry. Laat in sy eerste studiejaar het die Wyn-en-spiritusraad hom ’n beurs aangebied om wingerd- en wynkunde te studeer. Aangesien hy uit ’n gesin kom met twee kinders wat deur sy ma, ’n tydelike huiswerker, se loon onderhou is, kon hy die aanbod nie van die hand wys nie.
Hy het sedertdien die geleenthede aangegryp wat sy nuutgevonde beroep as wingerdkundige hom gebied het. “Mens moenie bang wees vir foute maak nie, ook nie in die werkplek nie. En maak staat op kollegas wat meer kennis oor spesifieke velde het. Mens kan so baie by hulle leer. Die lewe is ’n spanpoging.”
Ná navorsing van byna 13 jaar was hy in 2020 saam met sy spanleier by die LNR, die plantteler me. Phyllis Burger, Raisins SA en Culdevco betrokke by die bekendstelling van Sundowner, die eerste eg Suid-Afrikaanse rosyntjiedruifkultivar. Dié kultivar vaar veral goed in die Olifantsriviervallei. “Ons hoop om binnekort nog ’n kultivar beskikbaar te stel, hopelik een wat veral goed sal vaar in die Noord-Kaap.”
Vir hul werk op Sundowner het Daniels en Burger verlede jaar die sagtevrugtebedryf se gesogte toekenning gewen. Vanjaar is hy ook deur Landbouskrywers SA aangewys as Landboukundige van die Jaar vir die Noord-Kaap.
Daniels geniet die afwisseling wat sy werk bied – vanaf werk in die laboratorium tot die kans om gereeld ’n draai in die wingerd te kan maak. Hy is dankbaar oor sy opleiding in wingerd- en wynkunde wat hy aan die US gekry het.
“Dit het vir my ‘n baie goeie geheelprentjie gegee, en ‘n breë kennis van wat in ’n wingerd en in die bedryf gebeur.”
Sy doktorale studie is egter nie noodwendig gedoen op ’n onderwerp wat sal help om die vrug van die wingerd – druiwe – beter te verbou nie. Dit het voortgebou op werk waarmee hy reeds sedert sy honneursdae aan die US besig is. “Gewoonlik gebruik boere refraktometers om suikers te toets as hulle wil vasstel of druiwe gereed is om te oes. Dis egter nogal intensiewe werk, veral as jy baie wingerdblokke het wat getoets moet word. Dis ook nie altyd so akkuraat nie.”
Nou het hy wiskundige modelle geskryf waarmee die gehalte van trosse tafeldruiwe tot op korrelvlak sonder skade daaraan bepaal kan word deur die spektra van elke korrel afsonderlik met naby-infrarooi-tegnologie te skandeer.
Daarmee kan heel akkuraat voorspel word watter trosse meer geneig sal wees om vrot te raak of donkerkleurige doppe en die verbruining van vlees sal ontwikkel terwyl dit oorsee verskeep word.
“As mens reeds in die pakhuis kan bepaal watter druiwe ná vier tot ses weke se verskeping geneig sou wees om onooglik te verbruin, sou mens groot finansiële verliese vir uitvoerders kon keer. Dan kan hulle dit eerder op die plaaslike mark verkoop as dat dit sonder meer by die hawe afgekeur word omdat dit substandaard is.”
Sy modelle neem hoe soet of suur die druiwekorrels is in ag. Hy hoop om die resultate van sy grootliks laboratoriumgebaseerde PhD-werk binnekort ook op ’n kommersiële skaal te kan toets.