Viognier, 'n ou
Franse witwynkultivar wat veral in Noord-Frankryk verbou word, het 'n
vastrapplek in Suid-Afrika gekry. Wyn wat hiervan gemaak word, is nie net uiters
geskik as 'n witwynversnit nie, maar is ook met rooiwynkultivars versoenbaar.
Viognier is 'n ou witwynkultivar wat eeue lank in die Rhône-vallei en Loirestreek van Noord-Frankryk verbou word, maar tot redelik onlangs heeltemal onbekend in Suid-Afrika was.
Die heel eerste Viognierstokke is reeds in 1989 deur die KWV se plantverbeteringsafdeling ingevoer en word sedert 1993 in die KWV se proefpersele buite Stellenbosch en Paarl geëvalueer.
Mnr. Schalk van der Merwe, mede-eienaar van die Merwida-landgoed buite Rawsonville, het die grootste aanplanting van Viognier in Suid-Afrika. Die moederblok waarvandaan alle entmateriaal vir kommersiële verbouing kom, is ook op sy plaas.
Mnr. Van der Merwe en sy neef, mnr. Pierre van der Merwe, ook van Merwida, het verlede jaar die eerste wyn van Viognier gemaak. Feitlik al 5 000 l is na Brittanje uitgevoer. Vanjaar se oes het 10 000 l gelewer, en meer sal waarskynlik vir Suid-Afrikaanse wynliefhebbers beskikbaar wees.
Mnr. Charles Visser van die KWV in die Paarl sê hoewel dié kultivar reeds lank in Europa verbou en wyn van gemaak word, is dit geen waarborg dat dit in Suid-Afrika ook dadelik in aanvraag sal wees nie. Dit is 'n nuwe wyn, en mense moet eers daaraan gewoond raak.
Die oorsprong van Viognier is onbekend, maar het eers in die onlangse jare een van die wêreld se modekultivars geword. Dit is weens die eiesoortigheid en skaarsheid van die beroemde Condrieu-wyn van Chateau Grillet, die kleinste Appellation d'origine Contrôlée ('n wetlik voorgeskrewe aanduiding van oorsprong wat dikwels deur bv. 'n streek- of wingerdnaam aangedui word) in die Rhône-vallei.
Die grootste aanplantings is steeds in Frankryk - meer as 550 ha. In 1968 was daar maar 14 ha.
Intussen het die kultivar nou ook na ander lande versprei. Die grootste aanplanting buite Frankryk is in Kalifornië, waar sowat 520 ha aangeplant is. In Italië is sowat 10 ha, terwyl Australië ook 'n paar ha onder Viognier het.
In Suid-Afrika is sowat 12 ha gevestig, waarvan 2,5 ha deur die Van der Merwes besit word. Behalwe vir die neefs Van der Merwe is daar ook 'n kommersiële aanplanting van Viognier op Fairview van mnr. Charles Back buite die Paarl. Mnr. Van der Merwe beplan om vanjaar nog 5 ha te vestig.
In dié stadium is meer as 24 500 stokke reeds in moederblokke gevestig. Die klone wat geplant word, is VR 1, VR 2 en VR 642. Laasgenoemde word in Frankryk as die beste beskou, sê mnr. Visser.
Mnr. Visser sê dit is 'n kultivar wat vroeg bot en ryp word in die laaste week van Januarie tot die tweede week van Februarie. 'n Gemiddelde opbrengs van 2 kg tot 3 kg word per stok verkry, met 'n suurgehalte van 5 g/l tot 7 g/l teen 'n suikerinhoud van 22 °B tot 24 °B (B = balling). Viognier word dus ná Chardonnay ryp, maar voor Sauvignon blanc en Chenin blanc. Die groeikrag is gemiddeld tot swak, en op baie vrugbare grond is daar 'n effense geneigdheid tot vrot, sê mnr. Visser. Die korrels weeg gemiddeld 1,6 g en 'n gemiddelde tros 203 g.
Mnr. Van der Merwe sê die drag moet beperk word tot 10 t/ha om die aromatiese karakter te behou.
Wat wynkundige aspekte betref, moet Viognier teen 'n hoë suikergraad van 24°B tot 25°B geoes word om aromatiese blomagtige wyn te lewer. Die trosse moet teen sonlig beskerm word. Dit is ook sensitief vir gistingstemperature. Blomagtige tropiese geure kom by laer temperature voor terwyl warmer weer neutagtiger geure lewer.
Mnr. Visser sê Viognier lewer in die regte toestande delikate, komplekse wyne, met 'n parfuumagtige aroma wat 'n mens herinner aan appelkoos, perske, spesery en heuning, wat ook op die smaak waarneembaar is met 'n diep, ryk, eksotiese mengsel van vrug.
Die karakter van Viognier hou regstreeks verband met die graad van rypwording, dus moet die druiwe volryp wees as dit gepars word, meen hy.
Viognier is baie geskik vir versnitte, sê mnr. Van der Merwe. In Frankryk word dit gebruik om vrugtigheid te verleen aan Bourboulenc, Clairette blanche en Grenache blanc. Wat dié kultivar egter besonders maak as versnitwyn, is die feit dat dit ook met 'n rooi wyn soos Shiraz versny kan word - tot 20 %. Viognier verleen daardie ekstra dimensie van spesery aan Shiraz.
Mnr. Van der Merwe wil vanjaar heelwat versnitte met Viognier maak, onder meer met Chardonnay, Chenin blanc en Semillon. Dit sal onder die naam Merwida Riverstone bemark word.
In Frankryk se Rhône-vallei word Viognier deur die bekende wynmaker Guigal gedeeltelik sewe maande lank in nuwe houtvate verouder, waarna die onderliggende botteragtigheid die prominente vrugtigheid van subtropiese geure en appelkoos goed ondersteun. 'n Deel van die Viognier by Merwida is vanjaar in hout laat gis.
Mnr. Van der Merwe sê Viognier gedy in 'n gebied met 'n matige klimaat. Die winter in die Rawsonville-gebied is kouer as dié van die Stellenbosch-gebied en ideaal vir Viognier, terwyl die somer nie veel warmer as dié van Stellenbosch is nie.
Ander onbekendes ook
beproef
Behalwe Viognier kweek mnr. Schalk van der Merwe en
sy neef, mnr. Pierre van der Merwe, sowat 20 wynkultivars op sowat 600 ha,
waarvan Cabernet sauvignon, Shiraz, Merlot, Pinotage, Chardonnay, Sauvignon
blanc en Chenin Blanc die grootste deel uitmaak.
Hulle eksperimenteer
ook met ander minder bekende kutivars, soos Barbera, 'n Italiaanse kultivar, en
Petit Verdot en Malbec, Franse kultivars. Kultivars wat deel van sy beplanning
uitmaak, is Mourvèdre en Grenache, albei uit Spanje.
Hulle het een van die
grootste private wynkelders in die land, en voer sowat 70 % van die wyn wat daar
gemaak word, uit. Dit is in 1960 deur mnr. Van der Merwe se oupa en naamgenoot
opgerig. Die Van der Merwes boer sedert die 1840's in Rawsonville.
Mnr. Van
der Merwe het in 1996 in Bordeaux, Frankryk, die eerste keer met Viognier kennis
gemaak. Omdat hy gedurig teen stagnering in sy kultivarsamestelling waak, het hy
besluit om by die KWV navraag te doen oor dié "vreemde" kultivar. Hy het by die
KWV skoon entmateriaal gekry, want dié organisasie het in boere gesoek wat dié
kultivar wou kweek. Op dié manier is die moederblok op sy plaas geplant, en hy
voorsien ál die entmateriaal via die KWV.
Die eerste drie jaar is die druiwe
aan die KWV verkoop, maar sedert verlede jaar word wyn in die kelder op die
plaas daarvan gemaak. 'n Beperkte hoeveelheid van die 2002 Viognier-wyne sal van
September 2002 by die kelder beskikbaar wees.
Hy meen Viognier het baie
potensiaal as wynkultivar in Suid-Afrika, veral as dit in 'n premiumklas wyn
ontwikkel word. In 'n stadium was Viognier-wyn een van die duurste wit wyne ter
wêreld.
Mnr. Van der Merwe meen die Wes-Kaapse klimaat is ideaal vir die
verbouing van puik Viognier, en hy voorsien 'n goeie toekoms vir dié kultivar in
Suid-Afrika.
2 Augustus 2002