
Volgens die Proteaprodusente van Suid-Afrika (PPSA) is goeie data skaars, aangesien die bedryf so gefragmenteerd is. Die waarde van die verkope van vars blomme word op sowat R85 miljoen geraam.
Daarvan maak uitvoer 80% uit en binnelandse verkope 20%. Sowat 52% van die geoeste volume blomme word uitgevoer, terwyl 30% plaaslik verkoop en 18% gedroog word.
Die grootste deel van Suid-Afrikaanse fynbos word na die Europese Unie uitgevoer. Ander uitvoerbestemmings is Brittanje, Asië, ander Afrika-lande, Amerika, Kanada en Japan.
Plaaslike blommekopers verkies Leucadendrons (46% van die totale verkope), Proteas (33%) en Leucospermums (15%). Loof (39% van die totale uitvoer), Leucospermums (22%) en Leucadendrons (22%) is weer die gewildste in die buiteland.
Die prys van fynbos word bepaal deur die vraag na en aanbod van spesifieke produkte, die aanbod en relatiewe prys van ander vars blomme, die weer en die stand van die ekonomie.
Fynbos is 'n luukse produk, en ’n daling in inkomste gaan die vraag daarna laat afneem. Die vraag na fynbos word ook beïnvloed deur spesiale “blomdae” soos Valentynsdag, Paastyd, Moedersdag en Allerheilige dag.