
Die Sheehan-tafeldruifkultivar was die afgelope vyf jaar ’n teer punt vir twee vrugtemaatskappye in Suid-Afrika. ’n Hofgeding het oor die ontwikkeling daarvan ontstaan nadat mnr. Tim Sheehan, ’n Amerikaanse druifontwikkelaar, in 2009 gesterf het.
Dit is pitlose druiwe met unieke kleure en ’n langer raklewe, berig Die Burger. Die hofgeding oor eienaarskap van die kultivar was tussen Colors Fruit en AMC Fruit SA. Die twee maatskappye het nou besluit om saam te werk om die kultivar uit te brei.
Nuwe, gesamentlike onderneming
Besonderhede oor die samewerkingsooreenkoms sal oor die volgende maande duideliker word. Volgens die koerant sal ’n nuwe onderneming, SNFL-Colors, gestig word, waarin elkeen van die bestaande maatskappye ’n 50%-belang sal besit.
Mnre. Riaan van Wyk, bestuurder van Colors, en Alvaro Munoz, bestuurder van AMC, sê die ooreenkoms se bepalinge sal duidelik uitgestippel word: “Dit sal besluite oor die geprojekteerde aanplantings en bemarkingstrategie insluit.”
Albei die maatskappye sal gelisensieer word as nasionale en internasionale bemarkers en verspreiders van die druiwe. “Produsente sal dus kan kies watter een van die twee maatskappye hulle wil gebruik om hul druiwe te bemark.”
Die ontwikkeling van die kultivar sal saam aangepak word onder die bestuur van die kultivarmaatskappy Vitis. Meer as 200 ha van die Sheehan-kultivar is reeds plaaslik aangeplant en nóg 250 ha sal vanjaar geplant word. Oor die volgende vyf jaar sal die land na verwagting 2,5 miljoen kartonhouers van die druiwe lewer.