Mnre. Buks Nel en Henk Griessel van Tru-Cape sê hulle weet reeds die oudste boom is ’n 370-jarige wintersafraanpeerboom (Pyrus communis) in die Kompanjiestuin in Kaapstad.
Dit is in 1685 en 1714 deur ’n besoekende pastoor, ene Valetijn, beskryf. Oor die naasoudste ene krap hulle egter steeds kop. “Ons vermoed dit staan iewers naby die Liesbeekrivier, naby wat vandag Bishopscourt of Nuweland is.”
Hulle vra huiseienaars met ou gevestigde tuine rondom die Kirstenbosch Botaniese Tuin, die Vineyard-hotel, Almastraat in Rosebank en in Mowbray, Kaapstad, om in hul agtertuine te kyk vir ou peerbome.