Die nuwe geneties gemodifiseerde (GM) aartappelkultivar, SpuntaG2, wat deur die Landbounavorsingsraad (LNR) ontwikkel is, sal 'n seën vir kleinskaalse Suid-Afrikaanse boere wees, sê AfricaBio. Dié GM-belangegroep meen dat die aartappel, wat immuun teen die aartappelmot is, boere wat nie hul oeste onder gunstige omstandighede kan stoor nie, geld sal spaar.
Me. Jocelyn Webster van AfricaBio sê dat die aartappelkultivar 'n belangrike rol in toekomstige voedselsekerheid sal speel. Na ses jaar van navorsing, wat op die oorspronklike skepping van die Universiteit van Michigan in die VSA geskoei is, het die LNR nou aansoek by die Departement van Landbou vir 'n veiligheidsevaluering en die goedkeuring vir algemene beskikbaarstelling gedoen.
Webster sê dat die aartappel verliese van sowat R40 miljoen per jaar kan spaar, maar die bedryfsliggaam Aartappels Suid-Afrika is steeds skepties. Mnr. Ben Pieterse van dié organisasie meen dat die voordele van die kultivar nie teenstand van verbruikers en verliese weens uitvoerbeperkinge sal uitkanselleer nie.
Die LNR meen weer dat die aartappelkultivar net op klein skaal verbou sal word deur boere wat nie insekdoders kan bekostig om aartappelmotte te bestry nie. Die aartappels sal ook nie uitgevoer word nie. Boere en verbruikers sal die vryheid hê om te kies of hulle dit wil verbou of koop en die GM-produk sal duidelik gemerk wees.
2 September 2008