Dít, saam met toenemende produksie- en vervoerkoste, asook groot logistieke ondoeltreffendheid in die plaaslike en internasionale voorsieningsketting, plaas die winsgewendheid van die streek se sitrusbedryf onder soveel druk dat die situasie reeds as ’n krisis beskryf is.
Dr. Vaughan Hattingh, Citrus Research International (CRI) se uitvoerende hoof, het op die sitrusnavorsingsimposium gesê in die lig hiervan moet Suid-Afrika se sitrus-uitvoersektor nie net sy marktoegang verkry en behou nie, maar dit ook optimaliseer en toegang tot markte prioritiseer.
“Marktoegang is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Dit is ’n voortdurende poging om nuwe markte, nuwe produkte en wyer toegang tot bestaande markte te verkry en te behou. Daar is dikwels baie frustrasies met die onderhandelinge hieragter. Dit verg standvastigheid en volhardingsvermoë. Dit is nie ’n speletjie vir diegene wat ongeduldig is nie. Die handelsooreenkoms wat onlangs met die Filippyne onderteken is, het twaalf jaar geduur om te finaliseer.”