
Dit is geen geheim dat rooibostee een van die gesondste drankies ter wêreld is nie. Dié heilsame lafenis is nie net kafeïenvry, anti-inflammatories en vol antioksidante, minerale en vitamiene nie. Navorsers aan Universiteit Stellenbosch (US) het nou bevind dat rooibostee, spesifiek ongefermenteerde groen rooibostee, kan help om angs te verlig deur dit te voorkom of die graad waartoe iemand angs ervaar te verminder.
Dié bevinding is gemaak na aanleiding van ’n studie op sebravisse deur navorsers aan die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe in dié fakulteit se nuwe sebravis-laboratorium, waar sebravisse vir mediese navorsing gebruik word.
Sebravisse is op ’n unieke wyse vir die laboratorium se navorsingsdoeleindes geskik, omdat hul genetiese eienskappe baie met dié van mense ooreenstem – meer as 80% van die gene wat daarvoor bekend is dat dit siektes by mense veroorsaak, word deur soortgelyke gene in sebravisse verteenwoordig.
Die navorsing is met die samewerking van Spaanse navorsers van die San Jorge-universiteit en ’n plaaslike farmaseutiese maatskappy gedoen.
Prof. Carine Smith, hoof van die mediese navorsingslaboratoriums by die fakulteit, sê die studie het onder meer bevind dat groen rooibostee as ’n funksionele breinkos beskou kan word en ’n goeie opsie kan wees as ’n beginbestanddeel vir gesondheidskosprodukte wat as ’n alternatief kan dien vir farmaseutiese produkte.
Smith sê tot dusver het navorsing nog nie ’n enkele ongunstige effek van rooibos uitgewys nie, dus kan die verbruik daarvan oor die algemeen as veilig beskou word.
Sy sê dit is uiters betekenisvol dat die neurobeskermende en angswerende eienskappe by rooibostee se lys voordele gevoeg kan word. “Teen die agtergrond van soveel ongegronde aansprake op gesondheidsvoordele wat vir verskillende aanvullings gemaak word, is dit bevredigend om te kan bydra tot die wetenskaplike data wat die gebruik van rooibostee ondersteun as ’n funksionele kosproduk wat gesondheid op vele fronte gunstig kan beïnvloed.”
Die laboratorium se navorsing oor rooibos se eienskappe gaan voort danksy Suid-Afrikaanse Rooibosraad se finansiële steun.