
Meer as 100 produsente en belangstellendes het onlangs in die Koue Bokkeveld geluister na ’n paneelbespreking oor die lot van groenteboere. Pryse op die varsproduktemarkte groei teen dieselfde tempo as inflasie, terwyl insette in baie gevalle teen dubbeld daardie pas duurder raak.
Dr. Johan van Deventer, hoof van Freshmark, was deel van die viermanpaneel en het gevra of oorproduksie nie op die plaas begin nie.
Verskeie vrae aan die paneel het die indruk gewek dat boere aan die supermarkte uitgelewer is en dat dit juis die supermarkte is wat die grootste deel van die wins uit vars produkte maak.
Van Deventer het dié idee teengestaan en glo dat produsente nie altyd verstaan wat die koste is wat supermarkte moet aangaan om sake te doen nie. As die verskillende belanghebbendes in die bedryf meer gereeld en deeglik met mekaar kommunikeer, sal daar beter begrip wees.
Werk van die mark af terug
Mnr. Charl van der Merwe, voorsitter van die uieprodusente-organisasie van Ceres en die Koue Bokkeveld (Korkom), het die gesprek opgesom deur produsente aan te raai om hulself in te lig oor wat op die markte aangaan, wat die neiging is en daarvandaan terug te werk plaas toe en produksie dienooreenkomstig aan te pas.
Mnr. Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het gesê dis belangrik vir produsente om die behoefte van die mark te verstaan, en daarvolgens te produseer, met inagneming van wat aard in hul omgewing. Hulle moet ook so ver moontlik ingelig wees oor die prys in die mark op ’n bepaalde stadium.
“Daar is nou maar seisoenaliteit, en vraag en aanbod speel ’n groot rol. Die produk wat vroeër op die mark is, sal uit die aard van die saak ’n hoër prys kry, en soos die aanbod toeneem, sal die prys afneem. Dus, wees ingelig oor die prys sover moontlik, bou ’n verhouding op met jou markagent of jou kettingwinkel-aankoper, en sorg dat jy produseer na die behoefte van die verbruiker.”