
Volgens mnr. Richard Dennis, senior kommersiële bestuurder by Ehrmanns Wines in Brittanje, het die vraag na organiese wyn in 2015 die eerste keer die aanbod daarvan verbygesteek.
“Dis ’n neiging wat nie gaan ophou nie en dit plaas verkopers in ’n sterk posisie, want dis ’n verkopersmark daar buite. Ons beskou dit as ’n drastiese verskuiwing in die mark. Mense raak meer bewus van wat hulle koop en soek hul produkte noukeurig uit. Kleinhandelaars reageer daarop deur die produkte meer geredelik beskikbaar te stel,” het hy op die sertifiseringsliggaam Ecocert se organiese wynsimposium op Stellenbosch gesê.
Teen sowat 0,4 m miljoen ha is druiwe op drie na die grootste permanente gewas ter wêreld wat organies verbou word. Altesaam 5,3% van die wêreld se wingerde en 8,4% van Europese wingerde word organies bestuur.
“Europese verbruikers het dus ’n beter begrip van organiese wyn. Die lande wat die grootste potensiaal vir organiese wyninvoer toon, is Noorweë, Swede, Finland, Denemarke, Duitsland, Brittanje, Switserland, Oostenryk en die Benelux-lande. Dit is die meer ontwikkelde, vooruitdenkende, omgewingsbewuste lande, maar dié lande produseer plaaslik ook min tot geen organiese wyn nie.”
Duitsland voer sowat 30 miljoen bottels organiese wyn in, terwyl Noorweë en Swede 5% ekstra groei najaag teen 2020. Altesaam 8 000 winkels in Brittanje verkoop organiese produkte en 1,5% van alle kos- en drankverkope deur supermarkte is dié van organiese produkte. Altesaam 86% van die verbruikers daar koop elke jaar iets organies. Op enige gegewe oomblik is daar sowat £14 miljoen se organiese wyn te koop in Brittanje.
Hoofstroom raak groen
Dennis sê dit is nie meer net nisprodusente wat hul produkte organies verbou nie, maar ál meer hoofstroomprodusente skakel ook oor na organiese praktyke danksy die stygende vraag.
“Kleinhandelaars sien die mag van organiese produksie as ’n bemarkingshulpmiddel en hulle doen graag promosies en bemarkingstentoonstellings van organiese wyne.”
Wat witwyn betref, het hy Sauvignon blanc en Pinot Grigio, Alvarinho, Gruner Veltliner en Riesling uitgesonder wat goed vaar in die organiese mark. Chardonnay en Chenin blanc groei nie so sterk in daardie segment nie. Merlot, Tempranillo, Malbec en Shiraz is gewilde organiese rooiwyne, terwyl Cabernet Sauvignon minder gewild is.
“Daar is ook ’n groot geleentheid vir organiese vonkelwyn in Brittanje, veral as dit die styl en waarde van Prosecco kan nadoen en met premiumverpakking spog.”
Dink verder
Dennis het egter gesê dit is nie genoeg waardetoevoeging om bloot organies te wees nie. Produsente moet ook ander neigings, soos ’n laer alkoholinhoud, interessante verpakkings (soos wyn in blikkies of plastieksakkies) oorweeg.
“Ons het ook gesien aspekte, soos natuurlewe en natuurskoon, droëlandproduksie, mandjieperse, wynmakerprofiele, ou wingerde en druiwe wat met die hand gepluk word, werk goed.”
Hy het Stellar Organics van die Olifantsriviervallei as ’n groot suksesverhaal beskryf. Dennis sê daar is vyf aspekte waarna ’n wynverbruiker op soek is: ’n Unieke storie, statistieke wat ’n produsent se aannames steun, bestendige gehalte, deurdagte verpakking en die regte prys.
“Jou prys hoef nie die laagste te wees nie, maar dit moet reg wees.”