
Dít is basies die opsies vir die wynbedryf wat hom tans in ’n benarde situasie bevind wat voorraadvlakke betref, het mnr. Christo Conradie, bestuurder van wynkelders by Vinpro, op dié organisasie se virtuele inligtingsdag vir die Worcester- en Breedekloofstreek gesê.
Die totale wyndruifoes het vanjaar sowat 1 388 000 ton beloop. Dit is sowat 3,2% groter as verlede jaar.
“Dit beteken hier lê 827 miljoen liter wyn wat verkoop moet word,” het Conradie gesê.
Verlede jaar kon die bedryf slegs 680 miljoen liter wyn van die hand sit en die vorige jaar altesaam 735 miljoen liter. Sy projeksies toon die bedryf sal vanjaar na verwagting 765 miljoen liter wyn plaaslik en oorsee kan verkoop.
“As ons dit wel regkry om vanjaar 765 miljoen liter wyn te verkoop, sit ons met ’n voorraadvlak van 683 miljoen liter wyn. In 2019 was die voorraadvlak 452 miljoen liter wyn en verlede jaar 650 miljoen liter wyn.”
Conradie het gesê kelders se direksies en hul lede sal “harde gesprekke” moet hê oor die pad vorentoe. Hoewel Covid-19 ’n groot slag vir die bedryf was, het Conradie beklemtoon die bedryf se probleme het al lank voor dit begin.
“Die afgelope twintig jaar het verkope en produksie redelik na aan mekaar beweeg, maar van 2018 af kan ons sien hoe produksie toeneem, sonder dat verkope tred hou. Ons is by ’n gevaarlike punt wat voorraadvlakke betref, want die afgelope drie, vier jaar neem dit net toe.”
Dit is gesond om sowat vier tot vyf maande se voorraad te dra, maar tans sit die bedryf met sowat elf maande se voorraad in kelders.
Volgens Conradie het pryse nog nie so skerp gedaal as wat ’n mens sou verwag nie, maar dit is bloot omdat daar nog nie baie wyn verhandel is nie.
“Die oomblik dat jy besluite moet neem teen watter prys wyn by kelders uitry, glo ons daar gaan ’n redelike skuif in die prys per liter kom. Pryse kan vanjaar skerper daal as verlede jaar.”
Minder wingerd
Tans is sowat 92 000 ha wingerd in die bedryf gevestig, maar Conradie glo dit gaan oor die volgende vyf jaar tot sowat 85 000 ha afneem. Dit behoort ’n daling van ongeveer 52 miljoen liter witwyn en sowat 10 miljoen rooiwyn teweeg te bring.
“Direksies en wingerdboukundiges sal leiding moet gee, want ons kan eenvoudig nie aanhou produseer in ’n mark waar die volumes reeds te veel is, en dan verbaas wees as die pryse bly daal nie.”
Bykans 70% van die wyn wat verlede jaar in Suid-Afrika verkoop is, het minder as R30 per bottel gekos. Wyn wat duurder as R75 per bottel was, het net 9% van die mark uitgemaak.
Uitvoer was egter gunstig, en was vir die eerste paar maande van die jaar meer as in 2019.