Die wingerdstokke is goed en wel, “maar jou geld staan eintlik tussen die rye”, het dr. Jamie Goode die Swartlandse wynmaker mnr. Eben Sadie aangehaal op die internasionale Chenin blanc-kongres wat onlangs op Stellenbosch gehou is.
Goode, ’n Britse wynskrywer, plantbioloog en selfverklaarde wyn-geek wat onlangs die boek Regenerative Viticulture die lig laat sien het, beywer hom daarvoor om wetenskaplike oplossings vir probleme in die wynbedryf te vind.
“Herlewingslandbou is ’n gonswoord in die wingerdbedryf. Dit is baie opwindend, want dit bring regtig goeie wetenskap na wingerd.” Hy het gesê herlewingswingerdbou steek kop uit op plekke waar ’n mens dit glad nie sal verwag nie, soos Champagne in Frankryk, wat nie juis bekend is as omgewingsgevoelige wynstreek nie.