Van buite is daar weinig wat verklap hoekom mnr. Ivan Lutchman en sy seun, Prishlen, só trots is op ’n kweekhuis van houtpale en skadunette bo-op ’n bedding van alledaagse blou betongruis.
Maar elke aspek van dié struktuur is haarfyn beplan, en die hidroponiese blaarslaaiboerdery wat daarin gehuisves word, is só suksesvol dat hulle beoog om vanjaar die kapasiteit daarvan te verdubbel.
Teen die tyd toe Ivan met blaarslaai begin boer het, was hy reeds goed vertroud met hidroponika. Hy het vir 20 jaar die kommersiële hidroponiese produksie van Engelse komkommers, tamaties en soetrissies in tonnels vir ’n groenteboerdery behartig, tot hy in 2013 afgelê is.