Ons plaas, Lindisfarne, is tussen Hogsback en Cathcart in die Oos-Kaap geleë en behoort reeds vyf geslagte aan die Currie-familie. Ons boer met Merino-skape en vleis- en melkbeeste. My man, Duncan, se trots is ’n Dormer-kudde. Ek het in die kosbedryf in Kaapstad gewerk toe ek hom ontmoet het.
Voor ons troue het Duncan sewe jaar lank in Brittanje gewerk en baie ondervinding met bessieboerdery opgedoen. Terug op Lindisfarne wou hy graag sy bessiekennis benut. Hy en sy neef, Lochart Whyle van die buurplaas Grasslands, het gereeld gepraat om ’n bessieboerdery te begin.
Uiteindelik het die twee neefs besluit Duncan sal sy kennis en die struike verskaf, terwyl die meeste struike in die vrugbare grond op Grasslands, teen Hogsback-berg se noordelike hange, geplant sal word.