
Die kommersiële regte vir die hoodia-plant (Hoodia Gordonii) is nou weer in Suid-Afrikaanse hande nadat die Britse maatskappy Phytopharm dié regte aan die Wetenskaplike Nywerheids- en Navorsingsraad (WNNR) oorhandig het.
Die WNNR moet nou besluit of verdere navorsing rakende gebruike vir die plant voorgesit moet word nadat Unilever twee jaar gelede kommer om die veiligheid van hoodia-produkte uitgespreek het. Hoodia of ghaap is tradisioneel gebruik deur die San-mense om honger en dors te onderdruk.
Luidens ‘n berig op Business Day het die San ‘n paar jaar gelde bewus geword daarvan dat die WNNR die aktiewe bestanddeel van hoodia geïsoleer het en in geheim die ontwikkelingsregte aan Phytopharm gelisensieer het. Die gemeenskap het later ‘n ooreenkoms vir winsdeling met die WNNR aangegaan waarvolgens die San ‘n deel van die wins sou ontvang indien ‘n suksesvolle dieetproduk uit dié vetplant ontwikkel sou word.
Tot op hede het Unilever en Pfizer probeer om veilige produkte te ontwikkel, maar het nog nie sukses behaal nie. Phytopharm het ook onderneem om die WNNR toegang te gee tot die data van 14 kliniese studies wat hy met die plant gedoen het.
Luidens ‘n berig op Times Live sal verdere kliniese studies nou gedoen word. “ ‘n samewerkingsooreenkoms is met Phytopharm onderteken vir die verdere ontwikkeling en kommersiële gebruik van hoodia vir die bestuur van vetsugtigheid,” sê die WNNR.
Bron:
6 Desember 2010