
“Die landbou in die Wes-Kaap genereer jaarliks meer as R64 miljard, en 55% van alle Suid-Afrikaanse landbouprodukte wat uitgevoer word, kom uit dié provinsie,” het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou tydens ’n bekendstellingsfunksie by Klein Joostenberg naby Stellenbosch gesê waartydens Hortfin en FNB hul nuwe gesamentlike transformasieskema bekend gestel het.
Hortfin, wat transformasie in die vrugte-, tafeldruif- en wynbedryf in die hele waardeketting bevorder, het ’n nuwe vennootskap met FNB as finansiële rugsteun aangekondig met die samewerking van The Jobs Fund, wat projekte in die landbou én openbare sektor help finansier vir werkskepping.
Die vennootskap-ooreenkoms het ten doel om transformasie-landbouprojekte se volhoubaarheid te verseker. Meyer het gesê hy is baie opgewonde daaroor. Dit is duidelik dat FNB die goeie ekonomiese vooruitsigte van landbou in die Wes-Kaap deeglik besef en die geleentheid aangegryp het om deel te word daarvan.
Mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, het gesê die dae van toelaes aan landboutoetreders is verby. Die nuwe era is gemik op die hele landbouwaardeketting vir volhoubaarheid en doelgerigtheid. “Dit is ’n nuwe rigting waar buite die kassie gedink word.”
Mnr. Werner du Toit, FNB se Wes-Kaapse streekdirekteur: kommersieel, het gesê die bankgroep is geesdriftig oor die skema, ook om ’n belangrike rol te speel in die volhoubaarheid van die landbou. “Dit is ’n historiese mylpaal, ’n droom wat ’n werklikheid geword het vir die groep se vinnigste groeiende portefeulje, naamlik die landbou.”
FNB het sedert Januarie vanjaar transaksies van R37,2 miljoen verwerk en goedgekeur, terwyl ’n verdere R90 miljoen in die proses van goedkeuring is.
Mnr. Michael Brinkhuis, uitvoerende hoof van Hortfin, het gesê die ooreenkoms gee aan Hortfin die geleentheid om aan ’n groter deel van sy teikenkliënte toegang tot kommersiële finansiering in die landbousektor te gee.
Me. Najwah Allie-Edries, hoof van The Jobs Fund, het gesê die ooreenkoms bied geleenthede vir beduidend beter samewerking tussen die regering, ’n landboubedryfsliggaam en ’n groot kommersiële finansier om opkomende toetreders tot die sagtevrugtebedryfsketting te help.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.