
Hortgro het verlede jaar ’n stompkopkewerwerkgroep gestig wat die risiko wat die stompkopkewers inhou, aanpak deur monitering, die voorkoming van verspreiding en die uitwissing van besmettings op plase.
Hortgro het bykomende finansiering beskikbaar gestel om navorsingskapasiteit te verhoog, die moniteringsprogram uit te brei en tegnologie te ontwikkel vir vinniger identifikasie van die kweker in boorde.
Lokvalle
Hortgro het FruitFly Africa gekontrakteer om die lokvalle te diens in die gebiede waar hulle aktief is, terwyl bykomende moniteringskapasiteit gevestig sal word in streke waar FruitFly Africa nie aktief is nie. Die Hortgro-program het die afgelope drie maande 300 stompkopkewer-lokvalle in ses groot produksiegebiede van Elgin tot die Klein-Karoo en die Langkloof geplaas.
’n Verdere 200 tot 300 lokvalle sal in die komende maande geplaas word.
Hoewel besmetting in Somerset-Wes en die Nuweland-Mowbray-Claremont-korridor goed aangemeld word, is daar steeds beduidende besmetting op Stellenbosch waargeneem, veral in eikebome in die middedorp. Plekke in en om Stellenbosch waar stompkopkewers sedert die begin van die jaar gevind is, sluit in Bergkelder, Asara, Nietvoorbij, Devonvallei, Weltevrede-kwekery, Vlottenburg, Welgevonden, Onder-Pappegaaiberg en Die Boord. ’n Vergadering sal met Stellenbosch-produsente gereël word om die verspreiding van die kewer te probeer stuit.
Opleiding
Hortgro het begin met die opleiding van boordmonitors. Nog opleidingsessies word beoog. Bewusmakingsveldtogte sal ook begin word om belanghebbendes in die bedryf en die publiek in te lig oor materiaal wat die swam kan versprei, die simptome van besmetting in bome en dit aan te meld as die kewer opgemerk word.
Hortgro ontwikkel ook webwerf wat op produsente toegespits is, met relevante inligting rakende die bekamping van die insek, wat monitering en aksieplanne sal insluit.
Daar is op provinsiale en nasionale regeringsvlak aansoek gedoen om finansiering om die kewer te bekamp en gevra vir regulasies om die verspreiding tussen produksiestreke te voorkom.
Hortgro sal ook met die regering in gesprek tree om die produsente wat die ergste geraak word, by te staan as regulasies die verwydering van besmette boorde vereis.
Hortgro moedig produsente aan om betrokke te raak by die Integrated Pest Management Group (IPM) wat die laaste Vrydag van elke maand vergader om op hoogte te bly van die jongste inligting. Kontak info@hortgro.co.za om aan te sluit.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.