
Die junior navorser mnr. Heinrich Geldenhuys het vanjaar sy meestersgraad in hortologie van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang vir sy navorsing oor die gebruik van geskikte windskerms en ander vorme van beskerming teen die wind om verliese met sitrus te verminder.
Geldenhuys se bevinding wat in die vaktydskrif Erwerbs-Obstbau (Springer) gepubliseer is, toon dat wind maklik kosmetiese skade aan klein, onvolwasse mandaryn-vrugte aanrig, maar dat dit baie selde ’n invloed het op die eetgehalte daarvan.
“In die meeste gevalle beïnvloed dit nie die opbrengs en produksie van sitrusbome noemenswaardig binne ’n boord wat omring is met windskerms nie,” lui ’n verklaring van die US oor Geldenhuys se navorsing.
Bestuur só windlanings doeltreffend
Geldenhuys het bevind dat windskerms nie eenvormige beskerming vir ’n hele boord kan bied nie aangesien verskeie faktore die doeltreffendheid daarvan beïnvloed. Die hoogste persentasie vrugte van uitvoergehalte is tydens sy studie geoes vanaf bome wat die naaste aan windskerms gegroei het, met vrugteskille van bome in die middel van die boord wat meer letsels gehad het.
“Die ideaal is om windskerms 50 m uitmekaar te plant, maar in die praktyk kan die nie gedoen word nie, want dit sal beteken dat waardevolle produksieruimte verlore gaan, saam met regstreekse mededinging tussen bome om sonlig, voedingstowwe en water,” sê Geldenhuys in die verklaring.
Bome in windskerms moet voortdurend onderhou word vir optimale funksionering, want dit kan groter volumes vrugte van uitvoergehalte beteken. Hy noem byvoorbeeld dat ooglopende gapings tussen windskermbome vermy moet word en dat dadelik nuwe bome in die plek van dooies geplant moet word.
Sy bevindinge toon dat die afstand tussen boorde en windskerms die mate van beskerming beïnvloed. “Dit ondersteun gedeeltelik die huidige neiging om boorde ten volle te bedek met skadunette. Baie produsente verkies skadunet weens die uitsonderlike uitpakkoers, hoewel dit nie goedkoop is om te installeer nie. Boonop is die langtermynimpak van die gebruik van nette op ’n plaas se koolstof- en plastiekspoor nog nie duidelik nie,” sê Geldenhuys.
Aanvraag vir sitrusnavorsing
Hy sê die impak van windskerms, veral in die Wes-Kaap, is laas in die vroeë 2000’s nagevors. “Die bedryf het natuurlik sedertdien baie ander kwessies gehad om vir navorsing te oorweeg, soos hoe om valskodlingmot te bekamp en hoe om alternatiewe drag te voorkom. Windskerms is egter nie ’n onderwerp wat ’n mens kan ignoreer nie, want hul korrekte gebruik kan vruggehalte verbeter en produsente se winsgrense verhoog.”
Prof. Vaughan Hattingh, uitvoerende hoof van Citrus Research International (CRI), sê die sitrusbedryf maak staat op navorsing. “Omdat die bedryf hoofsaaklik op uitvoer konsentreer, moet dit mededingend, innoverend en in pas bly met globale ontwikkelinge. Suid-Afrika is ver van die winsgewende sitrusuitvoermarkte. Daarom was daar nog altyd ’n groot behoefte aan navorsing en tegnologie wat Suid-Afrika in staat sal stel om mededingend te bly.”
Hattingh sê onlangse navorsing in binne bedryf konsentreer daarop om die basiese beginsels rondom die insette van landbouproduksie te optimaliseer. Daar word veral gekonsentreer op opbrengste, voedingswaarde, besproeiing en bemesting. “ ’n Mens sal dink dat ons antwoorde hierop sou hê ná 70 jaar, maar omstandighede en omgewings verander, en ook die vereistes van wat geoptimaliseer moet word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.