Ná wekroepe uit verskeie oorde, veral oor die maatskaplike en ekonomiese impak van die besluit, het Tiger Brands ingestem om die fabriek nog vir die huidige seisoen oop te hou, waarna ’n ander eienaar die leisels moet oorneem of die deure slaan finaal toe.
’n Konsortium vrugteboere is intussen hard aan die spook om tot R300 miljoen bymekaar te maak en ’n vennoot te vind om die fabriek te koop. Duisende plaas- en fabriekswerkers, eintlik die hele Ashton-gemeenskap, se heil hang van die fabriek af.
Bykans 2 250 ha boorde, met taaipitperskes en Bulida-appelkose wat slegs vir inmaakdoeleindes geskik is, word geraak deur die besluit. Die finansiële toekoms van ongeveer 300 boere is in die gedrang. L&AF verwerk tot 60% van die land se inmaakvrugte.