
Sy is die eerste Suid-Afrikaner, asook die eerste wingerdboukundige wat dié eksklusiewe geledere betree.
Volgens mnr. Chris Maillard, Decanter se hoofredakteur, is Kruger “sonder twyfel een van die invloedrykste figure in haar streek en ten spyte van haar nederigheid, het sy ’n enorme rol gespeel in die storie van haar land se wyn”.
Kruger, ’n agter-agter-kleindogter van oudpres. Paul Kruger, het op ’n plaas in die destydse Noord-Transvaal, langs die Krugerwildtuin, grootgeword. Daarna het sy ’n politieke joernalis geword voor sy die regswêreld betree het. Toe sy ’n ma word, wou sy terugkeer na ’n plaasomgewing om haar seun groot te maak. Aanvanklik het sy ’n appelplaas in Elgin bestuur, toe sy begin wonder oor watter druifkultivars daar sou aard, en dit was die begin van haar lewenslange obsessie met wingerd.
Deesdae is sy bekend vir haar werk om ou wingerde in Suid-Afrika op te spoor, te bewaar en te vernuwe. Sy het in 2016 die Ou Wingerd-projek op die been gebring.
“Dis vir my ‘n groot voorreg om in dieselfde ry te staan as iemand soos Jancis Robinson, wie se handboeke al jare lank deel van my biblioteek van kennis uitmaak,” het Kruger aan Landbouweekblad gesê.
Sy glo die toekenning bevestig dat Suid-Afrika
se ou wingerde nou “veilig” is, en nie meer in generiese versnitte “verdwyn” of
in die pad van stootskrapers kom om plek te maak vir stedelike ontwikkelings
nie.
Welverdiend
Volgens mnr. André Morgenthal, bestuurder van die Ou Wingerd-projek, is dit ’n groot eer dat ’n Suid-Afrikaner dié toekenning gekry het. Boonop is Kruger net een van ’n paar vroue en die eerste wingerdboukundige wat só vereer word.
“As ons kyk na die lys van mense wat die toekenning die afgelope 39 jaar gekry het, is dit groot name in die internasionale bedryf.”
Ook mnr. Eben Sadie, een van Suid-Afrika se bekendste wynmakers, sê dis ’n welverdiende toekenning.
“Behalwe dat dit wonderlik is vir Rosa op ’n persoonlike vlak, is dit ook fantasties vir Suid-Afrika. Dit kan nie gering geskat word nie. Dis ook vir my gepas, want daar word altyd meer gekonsentreer op wyn as op wingerdbou met hierdie soort toekennings. Hierdie is ’n pluimpie vir wingerdbou in Suid-Afrika,” meen hy.
Sadie sê Kruger se dryfkrag en passie vir ou wingerd, en die bewusmaking wat daarvoor sy geskep het, staan vir hom uit.
“Haar ontdekking van die wingerde op die Skurfberg (naby Clanwilliam) was na my mening ná 1994 een van die grootste gebeure in die wynbedryf.”
Vir Morgenthal is dit nie net Kruger se werk in die wingerde wat uitstaan nie, maar ook wat sy doen om wingerdwerkers op te lei en op te hef. Sy is onder meer betrokke by opleidingsessies onder wingerdsnoeiers.
“Haar bydrae het begin met die feit dat sy die ou wingerde in die land geoormerk het. Vir daardie wingerde was daar voorheen geen agting of respek nie totdat sy dit aan handelsmerkeienaars beskikbaar gestel het. Die wingerde sou tot niet gegaan het, maar nou verander dit groot ondernemings se sakemodelle en menselewens.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.