Dit is nie vreemd om piesangboerderye in tropiese gebiede aan te tref nie – beslis nie in ’n woestynagtige land nie – maar in die meer gematigde gebiede in Israel word van 4 000 ha tot 5 000 ha piesangs verbou, alles onder net.
“Ons boer al byna honderd jaar met piesangs in Israel, maar twee dinge het ’n groot verskil gemaak om die piesangbedryf ’n tree of wat nader te bring aan die trope, waar dit eintlik hoort,” vertel mnr. Ziv Charitt, landboukundige by Netafim wat spesialiseer in boomgewasse en wingerd.
Drupbesproeiing het sowat 30 jaar gelede in Israel ontstaan, en meer onlangs het netstrukture nuwe lewe in die bedryf geblaas. Hoewel dié twee praktyke boere oneindig baie gehelp het en daar boonop die voordeel is dat die gebied betreklik siektevry is, is dit steeds nie maklik om met piesangs te boer in Israel nie.