Jakkalsvlei naby Herbertsdale, sowat 50 km van Mosselbaai, is ’n gewilde besoekpunt vir enigeen wat met goeie wyn tussen die wingerde wil ontspan in ’n restaurant met ’n unieke aanslag en spyskaart. Daar is ook lieflike stap- en bergfietsroetes.
Mnr. Jantjie Jonker, eienaar, sê dit is juis een van die redes waarom Jakkalsvlei so goed vaar. Met ’n interessante pakket is dit ’n volwaardige landboutoerismebestemming, nes hy in gedagte gehad het.
Die plaas is nie naby groot roetes nie en mense moet moeite doen om daarheen te gaan. Om dit te kon regkry, is verskeie uitbreidings en projekte aangepak wat geleidelik ál meer vrugte afgewerp het. Die grootste struikelblok was om groei te handhaaf en om die ervaring vir die sowat 60 000 besoekers elke jaar uniek te maak.