
Die 24-jarige mnr. Adrian Witbooi van die plaas Elandsfontein het byna 9 kg tee per minuut gesny. Luidens 'n verklaring het deelnemers net sewe minute gehad om soveel moontlik tee te sny. Witbooi was die wenner met 62,95 kg tee. Dit beteken hy het 8,99 kg per minuut gesny.
Slegs 1 kg het tussen mnr. Rosvel Prima (26) en dié titel gestaan. Hy was tweede met 61,95 kg. Mnr. Frank Ndovu (27) was derde met 58,9 kg.
Kontantpryse van Kaap Agri Graafwater is aan die wenners oorhandig. Elke deelnemer het ’n geskenkpak van Rooibos Route ontvang met ’n verskeidenheid rooibostee en rooibosteeprodukte.
Die kompetisie is gedurende Maart, in die middel van rooibos-oestyd, met die samewerking van Rooibos Route op die Jakkalsvlei-teeplantasie aangebied. Altesaam 17 werkers van Pampoentuin, Elandsfontein, Ysterfontein, Clanfresh, Skimmelberg, Rietvlei en Jakkalsvlei het deelgeneem. Die 17 deelnemers het altesame 670,75 kg tee gesny, ’n gemiddeld van 39,45 kg per deelnemer. Nege deelnemers het elk meer as 40 kg gesny.
Dit was ’n vinnige affêre
aangesien die doel van die kompetisie was om soveel tee so vinnig moontlik te
sny. Dié taak klink dalk eenvoudig, maar die kompetisiereëls het deelnemers op
hul tone gehou.
Deelnemers kon gediskwalifiseer word as hulle ’n vinger raakgesny het. Die tee kon ook nie net sommer op enige manier gesny word nie. Deelnemers moes sorg dat die tee nie te laag of te hoog gesny word nie.
’n Teesnykompetisie is iets om te aanskou, aangesien die hoeveelheid stof wat teesny veroorsaak, asook die molsgate wat misgetrap moes word, ’n mens sal laat dink jy is eerder by ’n rieldanskompetisie. Mnr. Krisjan Mouton, voorsitter van die Olyfenboschkraal-landbouvereniging, sê hulle beoog om die kompetisie volgende jaar uit te brei na ’n groter gebied en om meer landbouverenigings daarby te betrek.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.