
Mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, het tydens die liggaam se inligtingsdag in Kaapstad gesê hulle verwag dat voorraadvlakke teen die einde van die jaar net onder 400 miljoen liter sal wees.
“Dis presies waar ons wil wees. Ons wil hê voorraad moet gelykstaande wees aan sowat 50% van verkope en 400 miljoen liter gee jou daardie syfer. Ons staan dus aan die vooraand van interessante dinge.”
Sedert die covid-19-grendeltyd, toe die wynbedryf vir etlike weke nie toegelaat is om handel te dryf nie, het die bedryf met vernuwende oplossings vorendag gekom om die voorraadvlak, wat tydens die grendeltyd op sowat 650 miljoen liter gestaan het, te verminder. Druiwe is onder meer vir sap gelewer.
Ongelukkig het die verskuiwing van wyn uit kelders nie met winsgewendheid gepaard gegaan nie.
“Op die beste het pryse die afgelope 24 maande net sywaarts beweeg,” sê Basson.
Hoewel produsente deur enorme uitgawes in die gesig gestaar word, kan dié stygings nie aan die mark deurgegee word nie, want verbruikers is nie in staat om dit te absorbeer nie.
“Ek dink wel ons beweeg van ’n kopersmark na meer van ’n verkopersmark. My gevoel is dat ons oor die volgende vyf jaar ’n prysstyging van 40-50% op keldervlak sal sien.”
UItvoer daal
Intussen het Wines of South Africa (Wosa) in ’n verklaring bekend gemaak dat uitvoervolumes met 5% gedaal het tot 368,8 miljoen liter die afgelope jaar. Dis sowat 20 miljoen liter minder as die vorige jaar.
“Dit is egter gunstig om te sien dat die waarde van uitvoer slegs met 2,4% afgeneem het en altesaam R9,9 miljard werd was (teenoor R10,2 miljard die vorige jaar). Die rand per liter het oor die algemeen marginaal gegroei, te midde van stygende koses, verskepingsprobleme en tekorte in verpakkingsmateriaal,” sê me. Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wosa, in ’n verklaring.
Die daling in uitvoer word veral toegeskryf aan probleme met sterk wind en stakings in die Kaapse hawe. Tydens dié periodes kon wyn nie uitgevoer word nie.
Die wynprys per liter het darem met 2,2% geklim. Die prys vir grootmaatwyn, wat 62% van uitvoer uitmaak, het met sowat 5,3% gegroei.
Suid-Afrika se grootste wynuitvoermark, Brittanje, het met ’n verdere 5% gegroei in volume. China, wat voorheen groot potensiaal vir die bedryf getoon het, het pak gekry weens die Chinese regering se streng grendeltydregulasies.
“In ons naasgrootste mark, Duitsland, kan ’n afname van 17% in waarde en 9% in volume aan ’n aantal faktore toegeskryf word. Dit sluit in stygende inflasie in Duitsland en ’n toename in lewenskoste. Daar is ook ’n kultuur om eerder plaaslike produsente te ondersteun en hul wyne te drink, sowel as ’n tekort aan toerisme aan Suid-Afrika.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.