Boere van die Sandveld is verlig dat die Verlorenvlei en boorgate uiteindelik weer propvol water is ná goeie reën die afgelope winter. Daar is baie vingers na boere gewys toe die vlei minder as ’n jaar gelede opgedroog het.
Die goeie reën en die vol vlei het egter nie sonder probleme gekom nie. Die gehalte van die water is nou slegter as vantevore. Volgens mnr. Julian Conrad, ’n hidroloog en uitvoerende hoof van die geohidroliese konsultasiemaatskappy GEOSS, het die soutinhoud van die vlei ’n hoogtepunt bereik in die droogte.
Met die goeie reën het die sout- en die nitraatvlakke egter genormaliseer. Die water het egter al hoe suurder begin raak, het Conrad aan bykans 100 boere en belangstellendes op die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie (Sako) se jaarvergadering gesê.