Kewers is mense reeds miljoene jare vooruit. Hulle het reeds met swamme “geboer” lank voordat mense met boerdery begin het, sê navorsers verbonde aan die Universiteit van Barcelona in Spanje.
Dít blyk uit hul bestudering van die fossiele van verskillende soorte boorderkewers. As ’n vorm van beskerming boor die kewers tonneltjies in die hout van bome. In die proses versprei hulle ook die spore van die ambrosia-swam waarop die insek se larwes mettertyd sal voed.
Wanneer die larwes self volwasse raak, sal hulle weer die swam van boom tot boom saamdra, en dit sodoende versprei om te sorg dat hul eie nakomelinge nie verhonger nie.