Kiwi’s is gewild in van China tot Amerika, maar in Suid-Afrika word tans nog net sowat 100 ha groen en 100 ha geel kiwi’s verbou. Daar is egter geleenthede vir die land om ’n gerekende kiwiprodusent te raak, daarom wil maatskappye soos TopFruit die bedryf behoorlik vestig en uitbrei.
Volgens mnr. Roelof du Toit van TopFruit se kiwi-afdeling wat betrokke is by 15 proefblokke reg oor die land, kan ’n boer konserwatief gesproke R400 000/ha verdien.
Tans word die meeste kiwivrugte in Limpopo verbou, meestal die ou Hayward-kultivar. Maar groot beleggings word gemaak om geelvleiskiwikultivars aan te plant – veral om voordeel te trek uit die markgaping wat tussen Februarie en Maart bestaan, voor die Nieu-Seelandse seisoen begin.