Dit verander vinnig en boere moet op die hoogte kom van wat dié mark vereis. Aanlyn verkope van vrugte en groente sal na verwagting met 7% styg tot 2030.
“Hoewel dit tans effens dom kan wees om dié mark te ignoreer, sal dit teen 2030 noodlottig wees, want al die aanduidings is daar dat aanlyn se aandeel in die groente-en-vrugtemark aansienlik gaan groei oor die volgende tien tot vyftien jaar,” meen ’n verslag getiteld Disruption in fruit and vegetable distribution.
Dis deur die bestuurskonsultasiefirma Oliver Wyman opgestel en tydens Fruit Logistica in Berlyn bekend gestel. Namate verbruikers meer vertroud raak met die diens, afleweringskeuses meer gerieflik raak, struikelblokke met voorsiening uit die weg geruim word en die aanlyn aanbod verbreed, sal ál meer vars produkte deur ’n toepassing of webwerf gekoop en verkoop word.