
Die gevolge van klimaatsverandering is reeds duidelik op plase reg oor die wêreld. Die belangrikste manier hoe boere hulself egter daarteen kan verskans, is om te weet hoe die klimaat op hul eie plase verander het en hoe hul boerderypraktyke daarby aangepas moet word.
TerraClim, wat deur die sentrum vir geografiese analise by Universiteit Stellenbosch se departement geografiese en omgewingstudies ontwikkel is, is ’n aanlyn platform wat boere help om dié besluite te neem deur spesifieke en akkurate inligting te verskaf oor hoe die klimaat op hul plase verander het.
Die TerraClim-navorsings-en-ontwikkelingsprojek is in 2018 deur Winetech van stapel gestuur na aanleiding van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se kommer oor klimaatsverandering ten einde die impak daarvan te verstaan.
Die beskikbaarheid van water is veral ’n groot risiko vir die bedryf. Die Wes-Kaap, waar die meeste van Suid-Afrika se wynplase aangetref word, is veral kwesbaar aangesien dit hoofsaaklik in die winter reën kry wanneer die meeste gewasse dormant is en besproeiing in die warm, droë somermaande noodsaaklik is. Klimaatsverandering vind boonop so vinnig plaas dat tradisionele boerderypraktyke onvolhoubaar word.
Dié sameloop van omstandighede maak dit moeilik vir boere en beleggers, asook die bank- en versekeringsektor om langtermynbesluite oor die vestiging en verbouing van permanente gewasse te neem, sê dr. Tara Southey, wat aan die stuur van die TerraClim-projek staan.
TerraClim samel uurliks inligting in oor verskeie klimaatsveranderlikes, onder meer temperature, reënval en humiditeit, by sy meer as 200 weerstasies reg oor die Wes-Kaap. Daar word beoog om dié getal in die nabye toekoms te verdubbel en die projek se netwerk na ander gebiede in Suid-Afrika uit te brei.
Hierdie inligting word gebruik om nuwe geostatistieke en datawetenskaplike tegnieke te ontwikkel en toe te pas om modelle van die klimaatsomstandighede by alle boorde en wingerde in die TerraClim-gebied te voorsien. Dit is by www.terraclim.co.za beskikbaar. Dié kaarte word ook gebruik om gebiede vir die verbouing van onder meer wingerd te identifiseer waar toestande die gunstigste vir sekere kultivars is.
Southey sê ander bedrywe, onder meer die sagtevrugte- en sitrusbedryf, het ook aangedui dat hulle aan die projek wil deelneem aangesien die TerraClim-projek inligting en insigte voorsien waartoe boere nog nooit voorheen toegang gehad het nie. Met daardie inligting en insigte kan hulle hulself teen die gevolge van klimaatsverandering verskans.