
Struikelblokke in die logistieke voorsieningsketting en toenames in vrag- en produksiekoste is volgens mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur by Tru-Cape, die vernaamste faktore wat ’n demper op ’n andersins goeie oesseisoen vir appels en pere plaas.
Volgens hom neem koste regdeur die totale voorsieningsketting toe. Produksiekoste het met 15% toegeneem, iets wat reg oor alle markte voorkom, nie net in Suid-Afrika nie.
Hy sê dat globale prysinflasie ’n werklikheid is met rekordvlakke in Brittanje, Europa en Amerika, waar verbruikers meer sal moet betaal vir vrugte en groente. Hy sê stygende vragkoste staar ook appel- en peerprodusente in Chili en Nieu-Seeland in die gesig en dat skommelende wisselkoerse ’n impak op produsente en uitvoerders se koste en wins het.
Tru-Cape verwag om ten spyte van hierdie probleme sy uitvoervolume vanjaar met 4% te laat groei.
Mnr. Conrad Fick, bemarkingsbestuurder by Tru-Cape, sê vanjaar se seisoen is die mees komplekse van die afgelope 30 jaar aangesien daar soveel veranderlikes is.