
“Ek wil volgende jaar weer inskryf en dan mik ek om ’n pampoen wat ’n ton weeg, te kweek,” sê mnr. Piet Lotz, ’n dekriet-en-beesboer van die plaas Blombos naby Riversdal in die Wes-Kaap.
Sy wenpampoen het kop en skouers bo die res van die deelnemers uitgestaan. Dit was meer as 300 kg swaarder as die pampoen in die tweede plek, wat 553,5 kg geweeg het. “Dit was maar net genade, en ek glo dit is danksy al die inligting wat ek ingesamel het.”
Hy sê hy het voor die kompetisie geweet dat hy die Suid-Afrikaanse rekord oortref het, maar hy was nog onseker of sy pampoen naby die rekord van 808 kg vir die Suidelike Halfrond was. Die Giant Atlantic-pampoensaad vir sy wenpampoen is uit Amerika aangekoop.
Omdat die grond waar hy boer baie sanderig is, moes Lotz veral seker maak dat die pampoen genoeg water kry. “Die pampoen hou van goed gedreineerde grond, maar my probleem was om dit nat te hou en ek het maar gereeld water gegee.”
Hy het ook mis en organiese materiaal in die grond ingewerk om die waterhouvermoë van die grond te verbeter.
Leer so
Lotz neem al die afgelope ses jaar deel aan die reusepampoenkompetisie. Hy gebruik die beskikbare inligting op die internet om kennis in te win oor die kweek van reusepampoene. “Elke kweker vertel ’n bietjie. Ek gaan maar deur alles en gaan sit dan net alles bymekaar. Daar is baie inligting op die internet. As jy dit reg gebruik, kan jy groot sukses behaal.”
Lotz was verlede jaar tweede en het dadelik ná die inweeg begin om inligting in te win. Hy het met die geld wat hy gewen het, sy tuin meer windbestand gemaak deur skadunet op te rig.
Lotz het op skool reeds begin tuinmaak en sê toe hy eers met die kweek van die reusepampoene begin het, was daar geen keer. “As jy sien hoe vinnig hulle groei en watter resultate jy kry, dan byt dit jou. As jy dit een keer gedoen het en jy hou van tuinmaak, sal jy nie weer ophou nie.”
Volgens Lotz leer hy elke jaar iets nuut oor die kweek van pampoene, soos hoe om die plant te snoei of hoe om die blom reg te bestuif. “Ek is seker ek kan nog baie leer. Ek het nog nie die wenresep om ’n reusepampoen te kweek nie, maar ek weet al meer as toe ek begin het.”
Lotz moedig almal aan om hul hand te waag aan die kweek van reusepampoene en sê hy is bereid om raad te gee. “Dit is lekker en enigiemand kan probeer, al is dit harde werk. As jy vir Heidelberg se kompetisie inskryf, kry jy ook van die pampoen se teelmateriaal.”
Heidelberg se reusepampoenfees sou van 27 tot 28 Maart op die Heidelberg-skouterrein plaasgevind het, maar weens die nasionale inperking wat afgekondig is, is die pampoene op 26 Maart geweeg. Dit is op Facebook uitgesaai. Die fees is uitgestel.
Volgens Lotz is hy vir eers “klaar gepampoen”. Hy sal hy in Oktober die pampoen vir 2021 se kompetisie te plant. “Al wat sleg is met die inperking is dat ek nie kan rondbeweeg nie en daar is nou nie meer ’n pampoen om na te kyk nie.”