
Vanjaar se ProWein-handelskou in Duitsland gaan klasse saam met drie meesters in die wynbedryf aanbied.
Luidens ’n verklaring sal dié klasse, op versoek van vyf wynproduserende gebiede van die “Nuwe Wêreld”, deur drie wynpersoonlikhede van die “Ou Wêreld” aangebied word. Die reeks klasse sal onder die vaandel van Flavours – A Whole New World @ ProWein aangebied word.
Die vyf lande, wat gewoonlik teen mekaar in die mark meeding, maar in dié geval saamwerk, sluit Suid-Afrika, Chili, Nieu-Seeland, Argentinië en Amerika in.
Die skou vind van 4 tot 6 Maart in Düsseldorf, Duitsland, plaas. Wyne en uitstallings van sowat 50 lande sal te sien wees. Dié skou lok jaarliks sowat 40 000 afgevaardigdes.
Die streke
Die meesterklasse sal die kollig op wyne van dié vyf gebiede laat val. Die gekose wyne sal in die klasse met kos gekombineer word om hul veelsydigheid te beklemtoon asook om hulle binne die internasionale mark as bekostigbare alternatiewe wyne op wynlyste te plaas.
Mnr. Andreas Larsson, wat onder meer as die beste sommelier ter wêreld aangewys is, is een van die drie persoonlikhede. Hy is wêreldwyd bekend vir sy wynkennis en is tans wyndirekteur by PM & Vänner in Vaxjö, ’n vooraanstaande Sweedse restaurant.
Mnr. Ronan Sayburn MS, een van die 180 Meestersommeliers ter wêreld, sal ook deelneem. Hy is tans die direkteur van wyn en spiritualieë van Hotel du Vin, ’n vooraanstaande groep boetiekhotelle in Brittanje.
Me. Caro Maurer, die eerste Duitse vrou wat die kwalifikasie van Master of Wine verwerf het, is die derde persoonlikheid. Maurer is ’n wynskrywer, -opvoerder en -beoordeelaar wat in Bonn woon.
Wye bekendstelling
Me. Su Birch, uitvoerende hoof van Wines of South Africa, sê dit is die derde jaar wat dié vyf streke saamwerk. “Elke jaar beklemtoon ons ’n bepaalde kenmerk wat ons gemeen het en wat ons ’n nuwe manier bied om ons allerbeste wyne bekend te stel. Vanjaar wil ons mense bewus maak van hoe goed ons wyn saam met kos smaak.”
Birch sê hulle het doelbewus dié drie persoonlikhede, wat in Europa opgelei is, betrek. Dit sal nie net vir opwinding vir smaaksintuie sorg nie, maar ook die vyf lande se produkte aan ’n breë gehoor bekend stel.
Inligting oor die klasse is op www.flavours-prowein.com beskikbaar.
17 Januarie 2012