Dit was op 2 Februarie 1659 om presies te wees, toe Jan van Riebeeck die eerste druiwe aan die Kaap gepars het. Nou wil die bedryf dié herdenking tot ’n groot viering verklaar.
Op 2 Februarie 2023 sal dit 364 jaar wees sedert Jan van Riebeeck, die eerste kommandeur aan die Kaap, in sy dagboek geskryf het: “Heeden is Goode loff van die Caepse druyven d’eerste mael wijn geparst.”
Op dié winderige dag was die oes maar skraps en dit het net ’n paar liter sap opgelewer, maar hierdie datum maak Suid-Afrika die enigste wynland wat presies weet op watter dag sy wynbedryf tot stand gekom het.