
Die bedryf se probleem is egter nou om die momentum te behou en groter waarde te skep sodat pryse kan aanhou klim.
Mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, het tydens die organisasie se jaarlikse inligtingsdag in Kaapstad aan die bedryf die uitdaging gestel om vanjaar sowat 100 miljoen liter wyn meer as verlede jaar te verkoop, wyninvoer stop te sit en waarde te behou.
“Ek dink die toestande in die plaaslike mark sal taai bly. Ons sal daarom ’n uitvoergerigte bedryf moet wees. Daarvoor moet ons die prysverwagtinge met ons waarde-aanbod balanseer.”
Die volume wyn wat Suid-Afrika verlede jaar uitgevoer het, het met 24% gedaal. Daar was egter ’n skuif in die regte rigting wat pryse betref.
Basson sê die afgelope twee jaar is bykans 180 miljoen liter wyn minder geproduseer weens die droogte.
“Ons het skielik baie minder druiwe gehad, en die pryse daarvan het op produsente- en keldervlak gestyg. Kopers, wat skielik 30% meer vir druiwe moes betaal, het die nuwe pryse aan die mark deurgegee.”
Basson sê kelderdeurpryse het met 43% en 44% toegeneem.
“Ons het dus volume verloor, maar ons kon dit balanseer met pryse.”
Kleiner, meer volhoubaar
Hy voorsien dat die wynbedryf vorentoe kleiner, maar volhoubaarder sal wees. Teen 2024 sal die wingerdstand waarskynlik tot tussen 85 000 ha en 80 000 ha krimp. Daar sal van 140 miljoen tot 160 miljoen liter minder wyn wees om te verkoop.
“Ons het ’n derde minder produsente as tien jaar gelede, maar produsente se opbrengs op belegging het die afgelope paar jaar van 1% tot bykans 5% gegroei. Waar slegs 15% van die wynprodusente in 2015 winsgewend was, het die syfer verlede jaar tot 28% geklim.”
Dit maak die herplanting van wingerde aantrekliker. Basson verwag dat vanjaar 4 000 ha wingerd aangeplant sal word. Chenin blanc, Sauvignon blanc, Colombar, Chardonnay en Pinotage is boaan die lys.
Hy het egter by boere gepleit om waarde te ontsluit met nuwe aanplantings deur eerder na wyne van topgehalte as generiese wyne te mik.