
Valley Macadamias het ’n nuwe ontvangsdepot vir makadamianeute by Levubu in Limpopo in gebruik geneem. Die Levubu-streek lewer jaarliks sowat 12 000 ton van die nasionale opbrengs van 40 000 ton makadamianeute.
Mnr. Alan Sutton, die besturende direkteur van Sabie Valley Macadamias, het tydens die amptelike opening van die nuwe depot gesê die groot wêreldvraag na makadamianeute het ’n positiewe invloed op die Suid-Afrikaanse bedryf wat uitbrei om aan die groter vraag te voldoen. Die mark vir makadamianeute in China groei teen sowat 30% per jaar, wat tans ’n goeie geleentheid vir plaaslike makadamiaprodusente en -verwerkers bied om aan dié vraag te voldoen.
“Die nuwe ontvangsdepot sal ’n belangrike rol speel om die maatskappy se twee fasiliteite in Mpumalanga, naamlik Alkmaar Valley Macadamias en Sabie Valley Macadamias, van voorraad te voorsien vir die Valley Macadamia-groep se totale jaarlikse behoefte van 12 500 ton. Die bedryf beleef ’n massiewe groeifase wat aanplantings betref en sommige van ons kliënte groei teen 30% jaar-op-jaar om aan die groter vraag, hoofsaaklik uit China, te voldoen,” sê Sutton.
Volgens Sutton is die markte relatief onbuigbaar omdat die vraag die aanbod oorskry en veral die Chinese mark teen eksponensiële vlakke groei. Terwyl die Europese markte belangrik bly vir die plaaslike bedryf, het die vraag uit dié wêrelddeel afgeneem weens die voortslepende ekonomiese krises wat die potensiële groei in dié mark onder druk plaas.
Die groei in die plaaslike makadamiabedryf sluit goed aan by die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se doelwit om een miljoen werksgeleenthede in die landbousektor te skep. Die plaaslike bedryf verskaf werk aan een arbeider vir elke twee hektaar bome en tans is daar sowat 17 000 hektaar makadamiabone gevestig met verdere verwagte uitbreidings.
'n Verwerkingsaanleg met ’n produksievolume van 4 500 ton verskaf werk aan ’n verdere 150 mense, het Sutton gesê.