Ná die afgelope twee besonder goeie lietsjieseisoene dui alles daarop dat boere aansienlike druk ervaar in die huidige seisoen, nie net wat 'n afname in produksie betref nie, maar ook die teleurstellende pryse wat op die uitvoermark verdien word.
Mnr. Gavin Hardy, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lietsjiekwekersvereniging (SALKV) en lietsjieboer van Malelane in Mpumalanga se Onderberg-gebied, sê die vorige twee seisoene en veral die laaste seisoen (2007/'08) was die beste nóg sedert 2003. Altesame 1,9 miljoen bokse (2,2 kg/elk) is in die 2007/'08-seisoen uitgevoer teenoor 'n geskatte 1,4 miljoen bokse wat in die jongste seisoen (2008/'09) uitgevoer sal word.
Die hoofrede vir die laer produksie is waarskynlik die warm winter in die meeste produksiegebiede. Dit het tot swak vrugset gelei. En, sê Hardy, waar boere gemeen het die kleiner uitvoervolume en die huidige wisselkoers gaan hulle bevoordeel, is daar weens sterk mededinging in die mark en die Europese resessie geweldige druk op pryse.
Suid-Afrika voer lietsjies uit na Europa, Brittanje, Kanada en in 'n mindere mate na die Verre-Ooste. Tans word baie hard gewerk om marktoegang tot Amerika te kry, wat nuwe deure vir die bedryf behoort oop te maak.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 9 Januarie 2009.
8 Januarie 2009