
Die Landbounavorsingsraad (LNR) hou steeds asem op om te hoor of sy appél geslaag het om Suid-Afrika se eerste geneties gemodifiseerde (GM)-aartappel kommersieel beskikbaar te stel. Dié aartappel bied 100% weerstand teen aartappelmot.
Die skade wat die aartappelmot aanrig, word op sowat R40 miljoen per jaar beraam. Bespuitingskoste beloop sowat R10 miljoen. Dié soort bestryding beskadig egter die omgewing en wis ander onskuldige insekte uit.
Volgens me. Lynelle van Emmenes, senior navorser by Roodeplaat, die LNR se Instituut vir Groente en Sierplante, besluit die staat nog of die SpuntaG2-aartappel vrygestel moet word. Sy is egter hoopvol dat die aansoek hierdie keer sal slaag.
“Dit is die enigste GM-produk wat met geld van die openbare sektor ontwikkel is. Dit sal ’n groot mylpaal wees as ons dit kommersieel kan uitreik.”
Die LNR se aansoek om kommersiële uitreiking is afgekeur nadat die bedryfsliggaam Aartappels SA en maatskappye, soos Fruit and Veg City, Simba en MacDonalds, dit teengestaan het. Die LNR het egter appél teen die uitspraak aangeteken.
Pogings om GM-aartappels in die Amerikaanse, Kanadese en Egiptiese markte bekend te stel, het misluk. Daar is tans geen GM-aartappels op internasionale markte beskikbaar nie.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 9 April 2010.
7 April 2010