
In sy jongste oesskatting sê Makadamias SA die 2022-oesskatting is ná konsultasie met makadamiakwekers en -verwerkers opwaarts aangepas tot 68 522 ton vanaf die vorige skatting van 57 723 ton neute – gedroog en ongedop.
Daar was met die eerste oesskatting vanjaar nog kommer dat produsente in die noordelike dele van KwaZulu-Natal en in Limpopo by Letaba swakker opbrengste kon hê nadat hierdie streke onder hael deurgeloop het.
Boere in die Wes-Kaap by George was weer bekommerd dat koeler weer oor Desember en toe warm, droë toestande in Januarie hul opbrengste kon knou.
Die nuutste skatting dui daarop dat die impak van hierdie weertoestande nie so groot was nie.