Die makadamiaboom (Macadamia integrifolia) word beskou as die “ekologiese reus” van die tuinboukunde. Dit is te danke aan die boom se vermoë om water optimaal te benut, atmosferiese koolstof te bind, fosfaat uit die grond op te neem en organiese afval in die grond terug te plaas.
Makadamias het nie baie voedingstowwe nodig nie, en hul laterale wortelstelsels met baie fyn wortels en proteïede wortels is baie doeltreffend om fosfate en kalsium op te neem – selfs in grond waar die konsentrasie van hierdie voedingstowwe relatief laag is. Dit laat dus ruimte vir meer ekologies vriendelike bemestingsmetodes.
Voorlopige studies het bevind dat 17 ton bruto en 14,5 ton netto atmosferiese koolstof per hektaar per jaar deur makadamiaboorde gebind word. Daar is dus ’n behoefte om die produksie van makadamianeute nóg volhoubaarder en ekologies vriendelik te maak en te bemark. Die bedryf behoort dus te voldoen aan die Kioto-protokol van Februarie 2005 wat perke stel aan koolsuurgasvrystelling in die atmosfeer. Die toepassing van meer organiese produksiemetodes kan die gebruik van korrel- en vloeibare kunsmis en waterverbruik verminder.