
“Ons gaan ’n manier moet kry om die koek groter te maak, anders gaan ons almal al kleiner happies van dieselfde koek moet vat,” het mnr. Charl van der Merwe, voorsitter van Korkom, die aartappel- en uieprodusentevereniging van die Koue Bokkeveld en Ceres, op ’n onlangse vergadering van die noordelike uiekomitee gesê.
Data wat die verhouding tussen produsentepryse vir uie op die markvloer in verhouding tot aangeplante hektare oor die afgelope vyf jaar naspeur, wys dat aanplantings in die Wes-Kaapse produksiegebied ’n prysplafon bereik het toe daar in 2017 aansienlik meer as die gemiddelde 2 425 ha aangeplant is.
Van der Merwe het gesê boere in dié gebied is deur die natuur gedwing om hul aanplantings te beperk en nie hulpbronne op marginale grond of swakker plantjies te verkwis nie. Sedertdien was boere nog nie weer in ’n prysknyptang soos in 2017 toe daar 2 923 ha in dié gebied aangeplant is nie.
Vanjaar kan gemiddeld amper 7 000 sakkies per ha in die gebied geoes word.
Van der Merwe meen daar is markgeleenthede in Afrika, maar daar is ook knelpunte. Teenoor die amper 3 miljoen sakkies uie wat in 2017 na Angola uitgevoer is, is daar verlede jaar net 1,4 miljoen uitgevoer. Kopers daar het eenvoudig nie valuta nie. Hulle kan in Angolese kwanza betaal, maar die geldeenheid is so wisselvallig dat ’n mens oornag baie kan verloor.
In ander Afrika-lande ding Suid-Afrikaanse boere met onder meer Spaanse en Nederlandse produsente om markaandeel mee.
PLAASLIKE MARK
Mnr. Jaco Oosthuizen, uitvoerende hoof van die RSA Groep, meen Covid-19 het die lig op die groeipotensiaal van die plaaslike informele mark laat val.
Hy het verwys na ’n onderhoud van die sakejoernalis Bruce Whitfield met mnr. GG Alcock, bemarkingsadviseur en outeur van die boek Kasinomics.
Alcock meen die township-ekonomie word nie gemeet nie en mense besef nie hoe groot dit is nie. Hy sê tussen R150 miljard en R200 miljard wissel elke jaar hande in Suid-Afrika se spazawinkels, en die informele kosmark is omtrent R87 miljard werd.
“Een van die belangrikste kenmerke van Covid was die groei van hierdie formidabele informele sektor,” sê Oosthuizen. “Derduisende nuwe kopers het op ons markte toegesak en gebly. Hierdie nuwe kopers gebruik die markte vir oordeelkundige en koste-bewuste aankope, waar hulle die meeste waarde vir hulle geld kry terwyl hul persoonlike inkomste knyp.”
Dis ’n grootskaalse verkoopskanaal buite die bestek van formele markte wat tot die voedselsekerheidsketting in Afrika bydra, sê Oosthuizen. “En dit beantwoord dalk die vraag oor hoe ons die koek groter gaan maak.”