
Die Ad an Avocado-veldtog wat gewoonlik eers gedurende Junie en Julie gehou word, het vanjaar reeds in April begin. Dít, verduidelik mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van die sambreelliggaam vir subtropiese gewasse (Subtrop), is gedoen om die vroeër produksiespits van die plaaslike bedryf te help absorbeer.
“In die verlede het ons produksie eers sy hoogtepunt in die middel van die jaar bereik, maar vanjaar lyk dit of ons en ons buitelandse mededingers vroeër in die seisoen reeds groot volumes het om te bemark.”
Boonop is die Europese mark vanjaar vroeër voller as gewoonlik omdat Israel en Spanje besonder groot oeste het.
Donkin sê dat Israel gewoonlik ’n groot deel van sy oes na Rusland stuur, maar dat uitvoer na dié land tans baie moeilik is vanweë die oorlog in Oekraïne. Israel het dus baie van sy vrugte na ander lande, hoofsaaklik in Europa, gestuur. Om die aanbod van avokado’s op die Europese mark te bestuur, is meer Suid-Afrikaanse groenskil-avokado’s as gewoonlik plaaslik beskikbaar gestel.
Vrugte wat pas gepak en uit Suid-Afrika na Europa verskeep is, gaan boonop saam met ’n groot aanbod uit Suid-Amerika in Europa aankom. Baie uitvoerders probeer om die aanbod en prysdruk in Europa eerder met plaaslike verkope uit te balanseer.
Groot kennisgewingborde wat verbruikers in Suid-Afrikaanse stede van die veelsydigheid, smaak en voedingswaarde van avokado’s bewus maak, is net een van die strategieë wat Saaga en sy bemarkingsvennoot, Protactic Strategic Communications, van stapel gestuur het om groter plaaslike vraag te stimuleer.
Daar is ook ’n veldtog op sosiale media in die restaurantbedryf aan die gang waardeur verbruikers aangemoedig word om hul “ekstra” avokado by geregte af te neem en te deel. Die avokado maak ook later vandeesmaand sy buiging in geregte op e.tv se reeks The Ultimate Braai Master en word met resepte en promosie-artikels in verbruikers- en kostydskrifte bemark.
Dit is ’n taai seisoen tot dusver, sê Donkin, maar hy glo deur mooi te besin oor wat hulle vir watter markte wanneer pak, sal avokwekers dit oorleef. Die plaaslike mark neem normaalweg sowat die helfte van Suid-Afrika se avokado-oes op. Donkin sê hoewel die uitvoermarkte nie taboe is nie, moet hulle noukeurig bestuur word.
Haelskade in sekere produksiegebiede verlede jaar het die 2022-oes ook geknou, wat beteken daar is minder vrugte om plaaslik en internasionaal te bemark. Daar is aanvanklik beraam dat Suid-Afrika sowat 18 miljoen kartonhouers avokado’s vir die uitvoermark sou produseer, maar dit is intussen tot 15,5 miljoen kartonhouers aangepas.