
Altesaam 319,2 miljoen liter wyn, ter waarde van R9,1 miljard, is verlede jaar uitgevoer, ten spyte van ’n vyf weke lange uitvoerverbod en struikelblokke in die Kaapstadse hawe weens Covid-19. Dis 0,2% minder as wat in 2019 uitgevoer is.
Me. Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van WoSA, glo aanlyn en sosialemediaveldtogte het gehelp om die buiteland bewus te maak van die plaaslike wynbedryf se benarde posisie.
“Ons het ongelooflike ondersteuning van die handel, invoerders en verbruikers reg oor die wêreld geniet. Ons is ewig dankbaar vir elkeen wat ons ondersteun het en ons hoop dié ondersteuning sal voortgaan terwyl ons wéér verbied word om wyn plaaslik te verkoop.”
Mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, het die “redelike uitvoer” verwelkom, maar steeds gemaan dat plaaslike verkope en wyntoerisme noodsaaklik is vir die wynbedryf.
Volgens me. Yvette van der Merwe, uitvoerende bestuurder van Sawis (Suid-Afrikaanse wynbedryfsinligting- en stelsels), het daar sowat 640 miljoen liter wyn in kelders oorgebly ná die 2020-pars. Die plaaslike mark het sowat 90 miljoen liter wyn minder verkoop verlede jaar weens die voortslepende drankverbod.
‘Bly optimisties’
Thompson sê die Suid-Afrikaanse wynbedryf se toekoms is duister, maar hulle klou vas aan die veerkragtigheid wat dié bedryf in die verlede getoon het.
“Ons markbestuurders sal aanhou om Suid-Afrikaanse wyne in ons sleutelmarkte te bevorder.” Sy is vol hoop dat produsente en bemarkers later in die jaar weer self die markte sal kan besoek sodra die risiko’s verbonde aan die pandemie stabiliseer.
“Ons bly optimisties dat die wynbedryf, tesame met die ongelooflike wyntoerisme-aanbod, binnekort weer na volsterkte sal terugkeer en ’n ambassadeur vir ons pragtige land sal wees.”
Duur wyne vaar goed
Altesaam 181,5 miljoen liter grootmaatwyn ter waarde van R1,9 miljard en 136, 5 miljoen verpakte wyn ter waarde van R7,2 miljard het die land se grense verlaat. Die waarde van verpakte wynuitvoer het met 8,3% gegroei en grootmaatwyn se waarde het met 5% gestyg. Amerika en Kanada het veral aansienlik gegroei (van ’n lae basis af) as bestemming vir grootmaatwyn uit Suid-Afrika.
Minder goedkoop wyn is uitgevoer, maar uitvoer van wyn wat meer as R40 per liter kos, het bestendig gegroei. Die kategorie vir superpremiewyne (meer as R250 per bottel) het met 37% geklim.Dis veral Brittanje, Nederland, Amerika en Swede wat gehelp het om die wa deur die drif te trek. Die waarde van uitvoer na Brittanje V het met 28% geklim.
Teen 48,9 miljoen liter was Pinotage die enkele grootste uitvoerkultivar. Cap Classique-uitvoer het met 17% gegroei.