
Die nuwe wyn, The Pinotage Vine, is op ’n feesgeleentheid op die landgoed bekend gestel. Dié wyn is uniek aangesien dit ’n driedubbele gisting ondergaan wat ’n nuwe dimensie van geure tot die wyn bydra.
Me. Liza Goodwin, Meerendal se keldermeester wat die wyn gemaak het, meen dit is ’n toonbeeld van hoe veelsydig Pinotage-druiwe is. Die druiwe daarvoor is in 2016 geoes waarna dit 11 maande in houtvate gelê het. Dit is daarna aan die vars doppe van die 2018-oesjaar uit die erfenisblok blootgestel. Die wyn is toe vir nog sewe maande in Franse eikehoutvate verouder voor dit gebottel is.
Die driedubbele gisting verwys na die aanvanklike alkoholiese gisting wat gevolg is deur die normale appelmelksuurgisting waardeur meeste rooiwyne gaan. Die vars doppe het nog ’n titsel suiker oorgehad en toe dit by die 2016-wyn bygevoeg is, was daar ’n stadige derde alkoholiese gisting.
Goodwin beskryf The Pinotage Vine as ’n elegante, volronde wyn met pikante lae van aromas en ryp pruimgeure – die ideale wyn vir bredies, rooivleisgeregte en wildsvleis.
Meerendal se Pinotage-erfeniswingerd, wat in 1955 geplant is, is die oudste wingerd op die Durbanville-wynroete en een van die vier oudste Pinotage-wingerde in Suid-Afrika. Tydens die bekendstelling van The Pinotage Vine is ander wyne van die landgoed ook geproe, onder meer die heel eerste Meerendal Pinotage van die 1969-oesjaar.
Meerendal het by die geleentheid aangekondig dat die landgoed ’n projek saam met Vititec van stapel gaan stuur. Vititech, ’n toonaangewende verskaffer van topgehalte, siektevrye wingerdplantmateriaal, sal Meerendal bystaan om die beste stokke in sy erfeniswingerd te identifiseer. Dié stokke, wat oorspronklik deur prof. Abraham Izak Perold, die vader van Pinotage, ontwikkel is, sal dan ’n proses ondergaan om enige virusse te verwyder. DIt sal dan weer in die blok geplant word sodat die DNS daarvan bewaar kan word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.