Vir hoe lank was dit net boere wat gesorg het vir die groente op die tafel. Deesdae word Jan Alleman gedwing om ook op klein skaal te sorg vir ten minste tamaties of beet.
Net ’n klein stukkie grond in die agterplaas van menige stadsmens sorg vir ’n kookseltjie boontjies op die tafel. Soms is daar genoeg om ook vir die bure, familie of vriende uit te deel. As kind onthou ek hoe my pa weekliks van die plaas af groente dorp toe gery het na die mark toe.
Ons het nie veel opgelet nie, maar ek onthou hoe ek en my broer op die trollies gery het. En Simon was die man wat altyd die groente afgelaai het. Op ons Karoodorpie was daar ’n park. Die mooiste bome en blomme. Selfs hokke met voëls, apies en ’n sjimpansee.