Sy is nog net 4½ jaar in die wynbedryf. Splinternuut in die boerdery, kan jy maar sê. Maar Penny Streeter moes vinnig ’n plan maak om ’n handelsmerk van nuuts af op te bou en haar wynhandelsmerke op die voorgrond te plaas in ’n bedryf waar daar nie ’n tekort aan mededinging is nie.
Dis egter nie die eerste keer dat sy verplig was om ’n nuwe bedryf deeglik te leer ken nie. Sy’s ook nie ’n nuweling as dit kom by benarde situasies omkeer tot iets winsgewends nie.
“My sukses in die wynbedryf sou uiteindelik daarvan afhang of ek optimisties genoeg kon wees om dit te maak of nie,” het Penny tydens die WineLand Adams & Adams- seminaar in Groot Drakenstein gesê.